Satan (Hebreeus: שָּׂטָן, sāṭān, Grieks: ὁ σατανᾶς of σατάν, ho satanas/satan, Arabies: الشَّيطان, asj-sjhaitan), ook bekend as die duiwel of as Lucifer in die Christendom, is 'n entiteit in die Abrahamitiese gelowe wat die mens verlei tot sonde of leuenagtigheid. In die Judaïsme word Satan beskou as 'n agent wat ondergeskik aan God is. Hy word gewoonlik beskou as 'n metafoor vir die yetzer hara, of "bose geneigdheid". In die Christendom en Islam word hy gewoonlik beskou as 'n gevalle engel of djien wat teen God gerebelleer het, hoewel God hom nogtans tydelike mag toelaat oor die gevalle wêreld en 'n skare demone. In die Koran is Sjaitan, ook bekend as Iblies, 'n entiteit wat van vuur gemaak is en uit die hemel gewerp is omdat hy geweier het om voor Adam te kniel en die mens se gedagtes vul met "bose voorstelle".
'n Figuur bekend as ha-satan ("die Satan") verskyn die eerste keer in die Hebreeuse Bybel as 'n hemelse aanklaer, ondergeskik aan god, wat die volk van Juda in die hemelse hof aankla en die lojaliteit van Jahweh se volgelinge toets. In die tussentestamentiese tydperk het die Satan, moontlik onder invloed van die Zoroastriese figuur Angra Mainjoe, ontwikkel in 'n kaadwillige entiteit met afstootlike eienskappe in opposisie met God. In die apokriewe Boek van Jubileë gee Jahweh die Satan (na wie as Mastema verwys word) mag oor 'n groep gevalle engele, of hulle nageslag, om mense uit te lok tot sonde en hulle te straf.
Hoewel Genesis hom nie noem nie, identifiseer Christene die slang in die tuin van Eden as Satan. In die sinoptiese evangelies (Matteus, Markus en Lukas) lei Satan vir Jesus in die woestyn in versoeking en word hy geïdentifiseer as die oorsaak van siektes en verleiding. In Openbaring verskyn Satan as 'n groot vuurrooi draak, wat deur die aartsengel Migael verslaan en uit die hemel gewerp word. Hy word later vir duisend jaar vasgebind, maar word vir 'n kort ruk vrygelaat voordat hy finaal verslaan en in die poel van vuur en swael gegooi word.
In die Middeleeue het Satan 'n minimale rol in die Christelike teologie gespeel en is hy vir komiese afwisseling in raaiseltoneelstukke gebruik. In die vroeë moderne tydperk het Satan se belangrikheid aansienlik toegeneem namate die geloof in besetenheid en heksery toegeneem het. In die tyd van die Verligting is die geloof in die bestaan van Satan gekritiseer deur denkers soos Voltaire. Die geloof in Satan het egter voortbestaan.
Hoewel Satan gewoonlik as boos beskou word, glo sommige groepe anders. In tradisionele satanisme word Satan as 'n godheid beskou wat óf aanbid óf vereer word. In die Kerk van Satan is hy 'n simbool van deugdelike eienskappe en vryheid. Satan se verskyning word nooit in die Bybel beskryf nie, maar sedert die 9de eeu word hy dikwels in Christelike kuns uitgebeeld met horings, hoewe, harige bene en 'n stert. Hy is dikwels nakend en hou 'n getande vurk vas. Dié eienskappe kom van 'n verskeidenheid heidense gode, soos Pan, Poseidon en Bes. Satan verskyn gereeld in Christelike letterkunde, soos in Dante Alighieri se Inferno, in al die weergawes van die klassieke Faustverhaal, in John Milton se Paradise Lost en Paradise Regained, en in die gedigte van William Blake. Hy verskyn ook in rolprente en musiek en op televisie.
- ...lees verder
|
Die Spaanse nasionale rugbyspan (Spaans: Selección nacional de rugby de España) is die nasionale rugbyspan wat Spanje in internasionale wedstryde (toetswedstryde) verteenwoordig. Dié span se bynaam is Los Leones (“die leeus”). Rugby word in Spanje geadministreer deur die Spaanse Rugbyfederasie (Federación Española de Rugby, FER) wat in 1923 gestig is. Spanje word deur Wêreldrugby as ’n vlak twee-span erken. Daarmee behoort Spanje tot die beste Europese rugbyspanne naas die Sesnasies. Die Spaanse rugbyspan is tans (Oktober 2024) 18de op Wêreldrugby se wêreldranglys gelys.
Spanje het in 1929 sy eerste toetswedstryd teen Italië gespeel. Spanje het tot dusver vir een rugbywêreldbekertoernooi gekwalifiseer, maar hulle is in 1999 reeds in die groepfase uitgeskakel. Hulle het tydens die Europese Rugbykampioenskap nog geen titel ingepalm nie, vier keer as naaswenner en sewe keer in die derde plek geëindig. Die Spaanse span speel tradisioneel in rooi truie met blou broeke en blou sokkies.
- ...lees verder
|