Operasie Allied Force
Operasie Allied Force was 'n NAVO militêre operasie teen die Federale Republiek Joego-Slawië tydens die Kosovo-oorlog. Dit het geduur van 23 Maart tot 10 Junie 1999 waartydens beide militêre en burgerlike teikens soos brûe en geboue gebombardeer is. Trosbomme is onder meer hiervoor gebruik. In totaal was daar tussen 500 en 570 burgerlike ongevalle.
Agtergrond
[wysig | wysig bron]Na die verbrokkeling van die Sosialistiese Federale Republiek Joego-Slawië vroeër in die 1990's, het spanning in Kosovo tussen etniese Albanese en die Serwiese weermag van die oorblywende Federale Republiek Joego-Slawië vinnig toegeneem in 1998. Serwiese soldate het betogings gewelddadig opgebreek en burgerlikes toenemend geïntimideer. In reaksie hierop het die Kosovo Bevrydingsleër (UÇK) die militêre personeel met guerrilla-aksies aangeval.
Die Verenigde Nasies het met 'n formele oplossing vorendag gekom. Resolusie 1160 het die beëindiging van alle vyandelikhede en die begin van 'n politieke proses om geskille en eise tussen die partye te besleg, geëis. Dit is deur die betrokke partye geïgnoreer. Die Serwiërs en die UÇK het hul onderlinge stryd verskerp. Binne 'n paar maande is honderde burgerlikes dood en meer as 300 000 verplaas. Op 23 September 1998 het die VN resolusie 1199 aangeneem. Dit het 'n beroep op die partye gedoen om alle gevegte te staak en het gepaardgegaan met die aankondiging van moontlike sanksies. Daar was geen reaksie hierop nie.
Terselfdertyd het die Noord-Atlantiese Raad ingestem om Operation Determined Force (ODF) te aktiveer om Europese standvastigheid in die afwesigheid van VN-besluitneming te demonstreer. ODF het beperkte lugaanvalle op militêre teikens toegelaat en ook moontlike uitbreiding van aksies toegelaat as daar geen reaksie was nie.
Daar is vinnig opgetree; vliegtuie van 12 NAVO-lande was rondom die Balkan gestasioneer en 14 lande het logistieke ondersteuning verskaf. Op 27 Oktober 1998 is meer as 300 vliegtuie by basisse in Frankryk, Duitsland, Griekeland, Italië en Engeland ontplooi, asook op vliegdekskepe in die Adriatiese See.
Onder hierdie druk het Serwië en Montenegro president Milosevic op 15 Oktober 1998 ingestem tot 'n wapenstilstand, onttrekking van die weermag uit Kosovo en die internasionale verifikasie hiervan. NAVO en die Organisasie vir Veiligheid en Samewerking in Europa (OVSE) het daarna 'n ooreenkoms met Serwië en Montenegro onderteken.
Bronne
[wysig | wysig bron]- Bacevich, Andrew J.; Cohen, Eliot A. (2002). War Over Kosovo: Politics and Strategy in a Global Age. Columbia University Press. ISBN 978-0-23150-052-4.
- Cox, Sebastian; Gray, Peter (2002). Air Power History: Turning Points from Kitty Hawk to Kosovo. Psychology Press. ISBN 978-0-7146-8257-0.
- Daalder, Ivo H.; O'Hanlon, Michel E. Winning Ugly: NATO's War to Save Kosovo (Brookings Institution Press, 2000). online
- Hosmer, Stephen T. (2 Julie 2001). The Conflict Over Kosovo: Why Milosevic Decided to Settle When He Did. Rand Corporation. ISBN 978-0-8330-3238-6.
- Krieger, Heike (2001). The Kosovo Conflict and International Law: An Analytical Documentation 1974–1999. Cambridge: Cambridge University Press. ISBN 978-0-521-80071-6.
- Lambeth, Benjamin S. (2001). NATO's Air War for Kosovo: A Strategic and Operational Assessment (Report). Santa Monica, CA: RAND Corporation. ISBN 0-8330-3050-7. https://www.rand.org/pubs/monograph_reports/MR1365.html.
- Macdonald, Scott (2007). Propaganda and Information Warfare in the Twenty-First Century: Altered Images and Deception Operations. Routledge. ISBN 9781135983512.
- McCormack, Timothy (2006). McDonald, Avril; McCormack, Timothy (reds.). Yearbook of International Humanitarian Law – 2003. The Hague: T.M.C. Asser Press. ISBN 978-90-6704-203-1.