George III van die Verenigde Koninkryk
George III | |
---|---|
Koning van die Verenigde Koninkryk en Hannover | |
George III in kroningsdrag, Allan Ramsay (1762).
| |
Vorstehuis | Hannover |
Titel | Koning van die Verenigde Koninkryk |
Regeer | 25 Oktober 1760 – 29 Januarie 1820 |
Gekroon | 22 September 1761 |
Voorganger | George II |
Opvolger | George IV |
Regent | George, Prins van Wallis (1811–1820) |
Ander titels | Voorheen Koning van Groot-Brittanje en van Ierland Keurvors van Brunswick-Lüneburg |
Volle naam | George William Frederick |
Gebore | 4 Junie 1738;[1] Norfolk House, St. James-plein |
Oorlede | 29 Januarie 1820; Windsor-kasteel, Berkshire |
Begrawe | St. George-kapel by Windsor-kasteel, Berkshire |
Eggenote | Charlotte van Mecklenburg-Strelitz |
Kinders | George IV Prins Frederick William IV Prinses Charlotte, koningin van Württemberg Prins Edward Prinses Augusta Sophia Prinses Elizabeth Ernest Augustus Prins Augustus Frederick Prins Adolphus Prinses Mary Prinses Sophia Prins Octavius Prins Alfred Prinses Amelia |
Vader | Frederick, Prins van Wallis |
Moeder | Prinses Augusta van Sakse-Gotha |
George III (George William Frederick; 4 Junie 1738[1]) was koning van Groot-Brittanje en Ierland van 25 Oktober 1760 tot met die vereniging van hierdie twee lande op 1 Januarie 1801, en daarna koning van die Verenigde Koninkryk tot met sy dood. Hy was ook Hertog van Brunswick-Lüneburg en keurvors van Hannover in die Heilige Romeinse Ryk tot met sy bevordering tot koning van Hannover op 12 Oktober 1814. Hy was die derde Britse monarg van die Huis van Hannover, maar anders as sy twee voorgangers is hy in Brittanje gebore en was sy moedertaal Engels.[2] Al het hy ’n hoë ouderdom bereik, het hy Hannover nooit besoek nie.[3]
Vroeë lewe
[wysig | wysig bron]George is in Norfolk House in Londen gebore. Hy was die kleinseun van koning George II, en die seun van Frederick, Prins van Wallis en Augusta van Sakse-Gotha. Hy is twee maande te vroeg gebore en daar is geglo hy sou nie oorleef nie, daarom is hy dieselfde dag nog privaat gedoop.[4] ’n Maand later is hy in die openbaar gedoop.
George was gesond as kind, maar teruggetrokke en skaam. Op agt kon hy Engels en Duits lees en kommentaar lewer op politieke gebeure.[5]
George se oupa, koning George II, het nie van die Prins van Wallis gehou nie en het nie veel in dié se kinders belang gestel nie. In 1751 is die Prins van Wallis egter skielik weens ’n longbesering dood en prins George het die koning se vermoedelike erfgenaam geword. Hy het een van sy pa se titels geërf en die Hertog van Edinburg geword. Die koning was nou meer geïnteresseerd in sy kleinseun en het hom drie weke later die Prins van Wallis gemaak.[6] In die lente van 1756 het die koning aangebied dat hy in St. James-paleis gaan woon, maar George het die aanbod van die hand gewys. Hy is in sy besluit gelei deur sy ma en haar vertroueling, lord Bute, wat later premier sou word.[7] George se ma wou hom eerder tuis hou sodat sy hom met streng morele waardes kon grootmaak.[8]
George het koning geword toe sy oupa, George II, skielik op 25 Oktober 1760 sterf, twee weke voor sy 77ste verjaarsdag.
Huwelik
[wysig | wysig bron]Toe George koning word, is ’n vrou dringend vir hom gesoek en op 8 September 1761 het hy getrou met hertogin Sophia Charlotte van Mecklenburg-Strelitz, vir wie hy op hul troudag ontmoet het. Twee weke later is hulle in Westminster-abdy gekroon. Die paar was gelukkig en George het nooit ’n minnares gehad soos sy twee voorgangers nie.[2][9] Hulle het vyftien kinders gehad: nege seuns en ses dogters. In 1761 het die koning Buckingham House (waar die Buckingham-paleis nou staan) gekoop vir sy groter wordende gesin. Hy het nie baie gereis nie en het sy hele lewe in Suid-Engeland deurgebring.
Bewind
[wysig | wysig bron]George III se lang bewind is gekenmerk deur ’n reeks militêre konflikte waarby sy koninkryke, ’n groot deel van die res van Europa en plekke verder weg in Afrika, die Amerikas en Asië betrokke was. Vroeg in sy bewind het Groot-Brittanje Frankryk verslaan in die Sewejarige Oorlog en so die oorheersende Europese mag in Noord-Amerika en Indië geword. Hy het baie van sy Amerikaanse kolonies egter gou weer verloor in die Amerikaanse Onafhanklikheidsoorlog, wat gelei het tot die stigting van die Verenigde State van Amerika. ’n Reeks oorloë teen die rewolusionêre en Napoleontiese Frankryk, oor ’n periode van 20 jaar, is finaal beëindig met die nederlaag van Napoleon in 1815.
George was diep gelowig en het ure elke dag gebid,[10] maar sy broers het nie sy morele waardes gedeel nie. Hy was geskok oor wat hy as hul losse sedes beskou het. In 1770 is prins Henry, die Hertog van Cumberland en Strathearn, ontbloot as ’n owerspelige en die volgende jaar is hy met ’n jong weduwee, Anne Horton, getroud. Die koning het haar nie as geskik vir ’n koninklike huwelik beskou nie: sy was van ’n laer sosiale stand en kragtens die Duitse reg mag hul afstammelinge nooit die troon bestyg het nie. George III het aangedring op ’n nuwe huwelikswet wat lede van die koningsgesin verbied om sonder die monarg se toestemming te trou. Die wet was ongewild in die parlement, maar is tog aanvaar as die Wet op Koninklike Huwelike van 1772. Kort daarna het ’n ander broer, prins William Henry, die Hertog van Gloucester en Edinburg, onthul dat hy in die geheim getrou het met Maria, gravin Waldegrave, die buite-egtelike kind van sir Edward Walpole. Nie een van die vroue is ooit in die koninklike hof ontvang nie.[11]
Siekte en opvolging
[wysig | wysig bron]In 1810, toe hy op sy gewildste was,[12] hoewel reeds feitlik blind weens katarakte en in pyn weens rumatiek, het die koning ernstig siek geword en die Prins van Wallis het vir die res van sy lewe as regent waargeneem. Teen einde 1811 was George III permanent geestesiek en hy het tot met sy dood in Windsor-kasteel gebly.[13] Dokters was destyd stomgeslaan oor sy siekte, maar vandag word geglo hy het aan die bloedsiekte porfirie gely.
Op 29 Januarie 1820 is George dood, ses dae na sy vierde seun, die Hertog van Kent. Hy is op 15 Februarie in St. George-kapel, Windsor, begrawe.
George is deur twee van sy seuns opgevolg: George IV en William IV, wat albei sonder wetlike kinders dood is. Die kroon het daarna na hul broerskind, Victoria, gegaan. Sy was die laaste monarg van die Huis van Hannover en die enigste wetlike kind van die Hertog van Kent.
Lang lewe
[wysig | wysig bron]George III het 81 jaar en 239 dae oud geword en het 59 jaar en 96 dae lank regeer – hy het langer gelewe en regeer as enige van sy voorgangers. Sy kleindogter, Victoria, het langer regeer (63 jaar en 213 dae) en geleef (81 jaar en 243 dae), terwyl Elizabeth II reeds langer leef en regeer as beide George en Victoria.
Stamboom
[wysig | wysig bron]Ernst August, keurvors van Hannover | ||||||||||||||||
George I van Groot-Brittanje | ||||||||||||||||
George II van Groot-Brittanje | ||||||||||||||||
Frederick, Prins van Wallis | ||||||||||||||||
George III van die Verenigde Koninkryk | ||||||||||||||||
Trivia
[wysig | wysig bron]Die dorp George is na George III vernoem. Die bekende tuinplant die strelitzia is genoem na die hertogdom Mecklenburg-Strelitz, die geboorteplek van sy vrou, koningin Charlotte.
Bronne
[wysig | wysig bron]- Brooke, John (1972). King George III Londen: Constable. ISBN 0-09-456110-9
- Butterfield, Herbert (1957). George III and the Historians. Londen: Collins.
- Cannon, John (2004). "George III (1738–1820)". Oxford Dictionary of National Biography. Oxford University Press.
- Cannon, John; Griffiths, Ralph (1988). The Oxford Illustrated History of the British Monarchy. Oxford: Oxford University Press. ISBN 0-19-822786-8
- Caretta, Vincent (1990). George III and the Satirists from Hogarth to Byron. Athens, Georgia: The University of Georgia Press. ISBN 0-8203-1146-4
- Fraser, Antonia (1975). The Lives of the Kings and Queen of England. Londen: Weidenfeld and Nicolson. ISBN 0-297-76911-1
- Hibbert, Christopher (1999). George III: A Personal History. Londen: Penguin Books. ISBN 0-14-025737-3
- Pares, Richard (1953). King George III and the Politicians. Oxford University Press.
- Reitan, E. A. (editor) (1964). George III, Tyrant Or Constitutional Monarch?. Boston: D. C. Heath and Company.
- Röhl, John C. G.; Warren, Martin; Hunt, David (1998). Purple Secret: Genes, "Madness" and the Royal Houses of Europe. Londen: Bantam Press. ISBN 0-593-04148-8
- Thomas, Peter D. G. (1985). George III and the American Revolution. History 70 (228): 16–31
- Trevelyan, George (1912). George the Third and Charles Fox: The Concluding Part of the American Revolution. New York: Longmans, Green.
- Watson, J. Steven (1960). The Reign of George III, 1760–1815. Londen: Oxford University Press.
- Weir, Alison (1996). Britain's Royal Families: The Complete Genealogy, Revised edition. Londen: Random House. ISBN 0-7126-7448-9
Verdere leesstof
[wysig | wysig bron]- Black, Jeremy (2006). George III: America's Last King. New Haven: Yale University Press. ISBN 0-300-11732-9
- Ditchfield, G. M. (2002). George III: An Essay in Monarchy. Basingstoke: Palgrave. ISBN 0-333-91962-9
- Conway, Stephen (February 2003). Book Review: George III: An Essay in Monarchy Geargiveer 27 September 2007 op Wayback Machine. Institute of Historical Research.
- Macalpine, Ida; Hunter, Richard (1966). "The 'insanity' of King George III: a classic case of porphyria". Brit. Med. J. 1: 65–71
- May, Thomas Erskine (1896). The Constitutional History of England Since the Accession of George the Third, 1760–1860 11de uitg. Londen: Longmans, Green and Co.
Verwysings
[wysig | wysig bron]Wikimedia Commons bevat media in verband met George III van die Verenigde Koninkryk. |
- Hierdie artikel is merendeels vertaal vanaf die Engelse Wikipedia-artikel en:George III of the United Kingdom
- ↑ 1,0 1,1 Volgens die Juliaanse kalender, wat in hierdie tyd nog in Brittanje gebruik is.
- ↑ 2,0 2,1 The Royal Household. "George III". Amptelike webtuiste van die Britse Monargie. Besoek op 25 Mei 2007.
- ↑ Brooke, p.314; Fraser, p.277
- ↑ Hibbert, p.8
- ↑ Brooke, pp.23–41
- ↑ Hibbert, pp.3–15
- ↑ Brooke, pp.51–52; Hibbert, pp.24–25
- ↑ Bullion, John L. (2004), "Augusta , princess of Wales (1719–1772)", Oxford Dictionary of National Biography (Oxford University Press), http://www.oxforddnb.com/view/article/46829 (Intekening nodig)
- ↑ Cannon, John (September 2004), "George III (1738–1820)", Oxford Dictionary of National Biography (Oxford University Press), http://www.oxforddnb.com/view/article/10540
- ↑ Brooke, p.260; Fraser, p.277
- ↑ Brooke, pp.272–282; Cannon and Griffiths, p.498
- ↑ Brooke, p.381; Carretta, p.340
- ↑ Fraser, p.285; Hibbert, pp.399–402