Kaapse malgas
Die Kaapse malgas[2] of witmalgas (Morus capensis) is 'n seevoël wat aan die hele kuslyn van Namibië en Suid-Afrika voorkom. Hulle is monogame standvoëls wat kommunaal jagmaak op skole ansjovis (Engraulis japonicus) en sardientjies (Sardinops sagax).[2] Hul ses broeikolonies is aan die wes- en suidkus geleë, en sommige sal as swerwers na subtropiese en tropiese kuswaters uitwyk. Dit is een van sewe seevoëlspesies wat endemies is aan die koue Benguela-opwellende ekosisteem van suidwestelike Afrika.[3] Hul getalle toon 'n dalende tendens aan die weskus, maar stygings aan die suidkus. Hul wêreldwye bevolking is in 1996 op 340 000 geraam.
Kaapse malgas | |
---|---|
'n Enkele volwassene en broeikolonie te Voëleiland by Lambertsbaai, Wes-Kaap | |
Wetenskaplike klassifikasie | |
Domein: | |
Koninkryk: | |
Filum: | |
Klas: | |
Orde: | |
Familie: | |
Genus: | |
Spesie: | M. capensis
|
Binomiale naam | |
Morus capensis (Lichtenstein, 1823)
| |
verspreiding van Morus capensis: 'n strook binne 160 km van die kuslyn |
Fisiese voorkoms
wysigDie geslagte lyk eenders, alhoewel hul pootkleure effens mag verskil.[4] Hulle is gemiddeld 89 cm (84-94 cm) lank[5] en weeg 2,6 kg.[2] Volwasse voëls is spierwit geveerd met 'n geelgetinte kop (duideliker in broeityd), en die veredos kan in helder son gloeiend voorkom.[5] Kaal vel omsoom die snawel en oë, en vorm saam met die snawelgroef en keelvel opvallende swart lyne oor die gesigarea. Die skerp, blougrys snawel is sonder eksterne neusgate (kyk onder) en het weerhakies op die snykante. Die oë is getooi met opvallende turkooisblou orbitale ringe, en word beskerm deur 'n knipvlies. Hul turkoois-gestreepte swart pote het elk drie webbe. Dié word ook gebruik word om die eier warm te hou, aangesien hul waterwerende veredos nie 'n broeivlek akkommodeer nie. Die vlerkspan wissel van 171 tot 185 cm. Dit neem jong voëls vyf jaar om volwasse te word, waartydens hulle algaande verveer van 'n gespikkelde bruin tot die wit, swart en geel veredos.[2] Volwassenes word van die ander twee Morus-spesies onderskei deur hul volkome swart stert-, slag- en byslagvere, benewens groter ongeveerde dele aan die gesig en keel.
Habitat en jaggewoontes
wysigDie voël jag skoolvis aflandig in dieper water, wat op seetogte oor honderde kilometers verkry kan word. Hulle sweefhang in die lug en vou die vlerke terug vir 'n vaartbelynde vorm wanneer hulle van sowat 30 meter hoog op die water neerduik. Omdat hulle die wateroppervlak teen 100 (40-120) kilometer per uur kan tref, is die bors- en gesigvel met lugsakkies toegerus wat die trefslag demp.[2] Hulle deurklief die water tot 11 meter diepte, waarna hulle nog veel dieper kan swem.[4] In stede van opvallende neusgate soos by etlike ander seevoëlspesies, haal hulle asem deur interne neusgate en 'n opening tussen die bo- en ondersnawel. Hulle maak onder meer jag op ansjovis en groot swerms volg die sardientjieloop. Binokulêre visie stel hulle in staat om die afstand van prooi en water te skat.[2]
Broeigewoontes
wysigHul roep is 'n kras "kara-kara-kara",[5] wat by broeikolonies bedags en snags geuiter word.[6] Maats kan mekaar se roepe tussen dié van baie ander eien, en word so na lang seetogte weer met mekaar verenig.[7] Tydens hul groet- of paringsritueel strek 'n mannetjie en wyfie hul nekke lugwaarts, en tik hul snawels teen mekaar.[2] Hulle begin laatwinter broei, gewoonlik in Augustus of September. Die ouers maak beurte om 'n enkele eier in 42 tot 46 dae uit te broei. Die kuiken het 'n swart vel (soos volwassenes), en is aanvanklik blind en ongeveerd. Die kuiken bly by die nes vir ongeveer 'n honderd dae.[2] Die Kaapse malgas het 'n beperkte broeigebied wat bestaan uit ses indiwiduele kolonies. Dié is geleë op drie eilande aan die Namibiese en drie aan die Suid-Afrikaanse kuslyne onderskeidelik.[3] Aan die Wes-Kaapse kuslyn broei hulle te Voëleiland in Lambertsbaai en Malgaseiland in Saldanhabaai,[6] en in die Oos-Kaap te Voëleiland in Algoabaai. Aan die Namibiese kus broei hulle naby Lüderitz op Mercury-, Ichaboe- en Possession-eilande,[2] en slegs enkele pare broei op Australiese eilande.
Status
wysigDie voël word bedreig deur oliestortings ter see en word deur die IUBN geklassifiseer as 'n kwesbare spesie. Kommersiële visvangs verminder ook hulle kosvoorraad, en ghwanoverwydering ontneem hulle van nesboumateriaal.[2] Tussen die eerste raming in 1956 en 2000 het hul getalle op die Namibiese broeieilande van 114 600 tot 18 200 broeipare gedaal, wat 'n 84% afname in 44 jaar impliseer. Weens kommersiële oorbevissing in Namibië het jaarlikse sardynvangste tussen die 1960's en 2015 met 99,5% getuimel, wat ook seevoëls van hierdie energieryke voedingsbron ontneem het.[8] Nietemin het hul getalle op hul Suid-Afrikaanse broeieilande oor dieselde tydperk met 430% toegeneem, van 34 400 tot 148 000 broeipare.
Hul natuurlike vyande bestaan uit die Kaapse pelsrob (Arctocephalus pusillus), witpelikane[9] en ander mariene voëls wat op die jonges prooi, en die kelpmeeu (Larus dominicanus vetula) wat hul eiers roof.[2] Broeigebied-steurnisse, siektes en ongure weer kan ook vrektes veroorsaak.
Taksonomie
wysigDie Duitse natuurkundige Hinrich Lichtenstein het die Kaapse malgas in 1823 beskryf.
Die malgasfamilie, Sulidae, het sowat 30 miljoen jaar gelede ontstaan. Vroeë Sulidae-fossiele bestaan uit Sula-malgasse, alhoewel meer akwaties as dié van vandag, terwyl die Morus-malgasse later, omtrent 16 miljoen jaar gelede, afgesplyt het. Die Morus-malgasse het in die noordelike halfrond ontstaan, vanwaar hulle later die suidelike oseane gekoloniseer het. Die mees antieke ekstante spesie blyk die gryspootmalgas (P. abbotti) te wees, die alleenoorlewende van 'n andersins uitgestorwe stamlyn.[10] In 2011 het 'n studie van selkern- en mitochondriale DNS gesuggereer dat die voorouer van Morus-malgasse om en by 2,5 miljoen jaar gelede ontstaan het voordat dit in die noordelike en suidelike stamlyne verdeel het. Laasgenoemde het dan om en by 0,5 miljoen jaar gelede verdeel in die Kaapse en Australiese malgasse.[11] Die drie Morus-malgasse word gesien as aparte spesies wat saam 'n superspesie vorm, alhoewel albei voorheen as subspesies van die noordelike malgas (Sula bassanus) geklassifiseer is.[12]
Sistematiese klassifikasie
wysigSulidae (malgasse) |
| ||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
Sien ook
wysigBron
wysig- Gids tot die Kusgebiede van Suid-Afrika. Jacana Media. 2007. ISBN 978-1-77009-215-0
Verwysings
wysig- ↑ BirdLife International (2012). "Morus capensis". IUBN-rooilys van Bedreigde Spesies. Weergawe 2012.1. Internasionale Unie vir die Bewaring van die Natuur. Besoek op 16 Julie 2012.
{{cite web}}
: Ongeldige|ref=harv
(hulp) - ↑ 2,00 2,01 2,02 2,03 2,04 2,05 2,06 2,07 2,08 2,09 2,10 "Die Kaapse malgas". Omgewing. republikein.com.na. Republikein. 28 April 2017. Besoek op 14 Februarie 2022.
- ↑ 3,0 3,1 Horn, Nicole (Biodiversity Capabilities). "The Cape Gannet (Morus capensis)". CapeNature. Besoek op 13 Februarie 2022.
- ↑ 4,0 4,1 4,2 Data van die naverwante noordelike malgas.
- ↑ 5,0 5,1 5,2 Prozesky, O.P.M.; Findlay, Dick (1974). Veldgids: Voëls van Suider-Afrika (1 uitg.). Johannesburg: Perskor Uitgewery. p. 17. ISBN 0-628-00266-1.
- ↑ 6,0 6,1 "Strange visitor at earth's largest Cape gannet colony". Earth Touch. YouTube. 8 Maart 2010. Besoek op 16 Februarie 2022.
- ↑ "The Cape gannet (Morus capensis) nesting". Lion Mountain TV. YouTube. 19 Augustus 2020. Besoek op 15 Februarie 2022.
- ↑ "Why the Namibian moratorium on sardine fishing must continue". Namibian Chamber of Environment. 15 November 2021. Besoek op 26 November 2021.
- ↑ Attenborough, David (24 Februarie 2020). "Pelicans Feast On Cape Gannet Chicks". YouTube. Life, BBC Earth.
- ↑ del Hoyo, Josep; Elliott, Andrew; Sargatal, Jordi; Christie, David A.; de Juana, Eduardo, reds. (2013). "Family Suildae: Gannets and boobies". Handbook of the Birds of the World Alive. Barcelona: Lynx Edicions. Besoek op 19 Mei 2018.
- ↑ Patterson, S.A.; Morris-Pocock, J.A.; Friesen, V.L. (2011). "A multilocus phylogeny of the Sulidae (Aves: Pelecaniformes)". Molecular Phylogenetics and Evolution. 58 (2): 181–91. doi:10.1016/j.ympev.2010.11.021. PMID 21144905.
- ↑ Nelson, J. Bryan (2010) [1978]. The Gannet. London: A&C Black. p. 18. ISBN 978-1-4081-3857-1.